Hier is ’n alternatief vir bordspeletjies om die langnaweek te geniet. Reis saam met Julie Walters op ’n skouspelagtige reis deur Skotland in die eerste episode. Sy neem ’n stoomtreinrit tot waar sommige spoorlyne doodloop.
Die vraag ontstaan: Rêrig? Kan só ’n treinrit deurgaans onderhoudend wees? As jy een uitsig gesien het, het jy mos almal gesien! Nie híér nie. Die geheim lê veral by die aanbieder. Walters is ’n geliefde aktrise wat gou herken word, en haar sêgoed raak nooit geforseerd nie.
Maar wat kan meer gesê word oor uitsigte deur treinvensters as: “Oee, dis fraai!” Dis hoekom Walters gekies is. Sy bied nuwe invalshoeke aan elke plek wat sy sien. Sy klim dan ook by klein stasies af en ontmoet die inwoners. ’n Hoogtepunt is ’n Skotse boervrou wat Walters aan haar Hoogland-beeste voorstel. Hiermee saam volg ’n onvergeetlike toneel wanneer ’n bakkie huiswaarts keer en die beeste met hul parmantige kuifies soos wafferse honde agter die voertuig aanhardloop.