As Hermanus 20 kunsgalerye kan hê, is twee kunsgalerye seker nie te veel vir Bloemfontein nie, het die kunstenaar David Griessel gedink en kort voor lank het hy die daad by sy gedagte gevoeg en die Co-Op saam met twee vriendinne geopen.
“Ek wou nog altyd graag ’n galery besit,” sê hy. In die eerste week van Mei is die galery onder enorme belangstelling geopen.
Griessel verduidelik hoe die binneruimte verdeel is. Teen die een muur hang sy “pen- en inktekeninge van ’n verskeidenheid rare dierasies en fantastiese kreature”, soos sy broer, Gert, dit beskryf.