Twee jazz-musikante wat hulle in Bloemfontein gevestig het, is net wat Joseph Kannuji nodig gehad het om ’n groep te stig waardeur hy sy liefde vir dié genre kan uitleef en groter prominensie daaraan kan verleen.
Kannuji, ’n trompetspeler en dosent in etnomusikologie en Afrikamusiek aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), het nie gras onder sy voete laat groei toe Marc en Claire Röntsch hulle vanjaar by die OSM aanmeld nie.
Sommer gou het hy ’n jazzgroep gestig en ’n program gereed gekry vir die nuwe City of Roses (CoR) Jazz Ensemble se debuut op 16 Maart.