’n Egpaar van Moreleta Park in Pretoria het die naweek in die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria pragfoto’s geneem van ’n jagluiperd en haar vyf welpies.
Zelda Harmse en haar man, Robert, het die jagluiperds gesien toe hulle die naweek daar deurgebring het. “Ons is byna elke naweek vroegoggend in die Rietvlei-natuurreservaat,” sê sy. “Ons was bevoorreg om die ma en kleintjies vir die eerste keer te sien tydens die langnaweek in Maart. Dit was net toe die son opkom.
“Nou het ons hulle weer dié naweek gesien. Ons het ’n hele halfuur by hulle deurgebring. Die ma was baie rustig en het so af en toe gaan stilstaan om saam met haar kleintjies te rus voordat sy weer aangestap het.