Maart is die beste maand om koelseisoengroente soos blaarslaai en spinasie, tuinertjies, wortelgewasse soos wortels, beet, sprietuie en radyse en al die brassicas (koolsoorte) te saai.
Moenie vergeet van kruie soos roket, koljander, kerwel (soms Franse pietersielie genoem) en suurlemoenbalsem wat ook goed vaar in koeler weer nie. Roket is ’n besonder vinnige oes en sy peperige blare is heerlik in toebroodjies en slaai sowel as op pizzas.
As jy nog nie plek in die groentetuin het nie, saai in saadbakke en as die dae nog warm is, hou die bakkies in halfskadu onder net of in die gevlekte skadu van ’n boom. Hou die grond gedurende die ontkiemingstydperk deurlopend klam met bespuiting een of twee keer per dag.