Dit is nou nie iets wat die hoogmoedige kossnobs sal aanstaan nie, maar ek raak al hoe meer ’n fan van 2-minuut-noedels en het die heerlikste biefstuk-ramen, rou mielieslaai, pesto-pasta en carbonara gemaak.
My raad is om die pakkie met die geursel, wat saam met jou noedels kom, weg te gooi (of te hou om oor jou springmielies te gooi) en iets heerliks op te tower.
My sjef-crush, Peter Tempelhoff, het onlangs ’n ramen-restaurant, Ramenhead, in Kaapstad oopgemaak en jy staan regtig tou om daar aan ’n bakkie ramen te smul. Die kossnobs is tevrede, maar my plat sak laat my nog nie toe om daar te gaan eet nie. So dit is Jan Tuisbly se karretjie en 2-minuut-noedels-ramen vir my.