Akteurspaar groet die Jakarandastad



PRETORIA. – Die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels het bykans 50 jaar se besittings en herinneringe om op te pak vir wanneer hulle Pretoria volgende maand vir Somerset-Wes verruil.

In Pretoria naby Fort Klapperkop het hulle verloof geraak, in die Gereformeerde kerk Paul Kruger in die middestad is hulle getroud, hul drie kinders is hier gebore en getoë, Trichardt het vir 30 jaar by die Universiteit van Pretoria se drama-departement klas gegee, hul Die Teaterhuisie was in Pretoria en hulle het verskeie produksies in die Pierneefteater opgevoer.

Trichardt het ook talle kere vir die Blou Bulle op Loftus Versfeld gaan skree.

Nou verhuis hulle Somerset-Wes toe. Om te gaan rus en om by hul kinders, kleinkinders en ander familie te wees.

Volgens die egpaar is die verhuising ’n bittersoet ervaring.

“’n Mens kan nie só ’n lang saamlooppad in ’n spesiale stad in een veeg tot niet maak nie,” sê Wessels.

Vir Trichardt is dit ’n bietjie moeiliker, “want die boom se wortels is redelik diep”, sê dié “gebore Transvaler”.

“Ek hou van bekendheid om my. Ek hou daarvan om in die stad te ry en te weet waar die eerste OK Bazaar was en die biblioteek waar jy jou fiets kon los sonder om dit vas te maak,” sê Trichardt.

“Ek sny al vir 40 jaar by dieselfde haarkapper my hare. Ek was hier toe Tukkies se proefplaas nog in die buitewyke van die stad was.

“Ons gaan nou van voor af begin en nuwe dinge aanpak.”

Trichardt het in 1955, toe hy in st. 8 was, saam met sy ouers van Johannesburg na Pretoria verhuis.

“Ek het ná skool by die Durban-universiteit gaan studeer en gaan vrou soek,” skerts hy.

“In my tweede jaar kom hierdie mooi eerstejaar daar aan. Ek het haar telefoonnommer by die dominee gekry en toe bel ek haar. Dit was maar moeilik om ’n afspraak met haar te kry.”

Die paartjie het in 1965 na Pretoria getrek toe albei by die destydse kunsteraad Truk kontrakte gekry het.

Hulle is in 1966 getroud.

Oor die jare heen het hulle onderskeidelik in verskeie toneelopvoerings, radioprogramme, rolprente en televisiereekse opgetree. Trichardt was ’n drama-dosent en saam het hulle Die Teaterhuisie, ’n klein, intieme teater in Sunnyside, bedryf. Hulle bied ook steeds hul Woordbeelde aan – programme wat uit prosa en poësie om ’n spesifieke tema saamgestel is.

Wessels sien baie uit na die Kaap waar sy grootgeword het. Sy wil nou saam met haar man tussen die fynbos gaan loop en sneeumanne in die winter bou.

Op ’n vraag of hulle weer by teaterwerk gaan betrokke raak, het Wessels gesê dit sal steeds ’n vreugde wees om dit te doen as die geleentheid hom voordoen.

Trichardt het jare se koerantknipsels wat hy in plakboeke wil plak en Wessels wil graag haar “skryfsels en gedagtes – want ’n mens kan dit nie gedigte noem nie” – in ’n bundeltjie saambind.

Wessels sê sy weet saam met haar man sal daar nooit “ ’n vervelige oomblik wees nie”.


Rand - Dollar
17.98
-0.1%
Rand - Pond
19.91
+0.2%
Rand - Euro
17.55
+0.4%
Rand - Aus dollar
11.63
+0.3%
Rand - Jen
0.12
-0.0%
Goud
1,665.63
+0.3%
Silwer
18.96
+0.8%
Palladium
2,185.50
-0.9%
Platinum
860.50
-0.9%
Brent-ruolie
88.49
-0.9%
Top-40
57,213
+0.5%
Alle aandele
63,552
+0.5%
Hulpbronne 10
59,557
-0.4%
Industriële 25
77,247
+0.6%
Finansiële 15
13,870
+1.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos