Dis onsin dat Kyalami se “geldgierigheid” Suid-Afrika die kans gekos het om vanjaar reeds tot Formule Een se Grand Prix-kalender terug te keer. Die F1-legende wat dit beweer, het eenvoudig nie al die feite tot sy beskikking nie.
So het Christo Kruger, woordvoerder van die Kyalami-renbaan, die afgelope week gereageer op dié bewering van die voormalige F1-wêreldkampioen Jody Scheckter dat die sport se ringkoppe die hasepad gekies het toe “die Kyalami-ou” die huurgeld vir ’n naweek by die renbaan skielik “van 500 000 tot 2 miljoen verhoog het”.
Scheckter, die enigste Suid-Afrikaner wat al F1 se wêreldkroon kon dra, het dié opmerkings verlede week in ’n onderhoud met Total Motorsport gemaak.