Nie net het die skerp suisgeluid van elektriese renmotors in Kaapstad se eerste E-straatren Saterdag talle toeskouers en bekendes gelok nie, maar die rygoed het ook voordele van meer as R2 miljard vir die Moederstad los gejaag.
Die vyfde ronde van die internasionale Formule E-reeks is op ’n straatbaan in Groenpunt al om die Kaapstad-stadion beslis. Dit was die eerste keer dat Kaapstad ’n E-straatren aangebied het.
Aan bekendes onder die toeskouers was daar nie ’n tekort nie. Rugby-grotes soos die Springbokrugbykaptein, Siya Kolisi, en die voormalige Springbokrugbykaptein Francois Pienaar was daar, asook die kletsrymer Jack Parow wat by Porche se kuipe gaan inloer het. Die musikant DJ Black Coffee het ook sy gesig gewys.