Dis ’n feit soos ’n koei: Klassieke musiek het net so ’n kalmerende uitwerking op koeie as op mense.
Navorsing aan die Universiteit van Pretoria (UP) het bewys koeie vir wie klassieke musiek gespeel word, is meer ontspanne en produseer meer melk as koeie vir wie nié musiek gespeel word nie.
Lize Erasmus (30) het verlede jaar haar MSc-graad in landbou in dié onderwerp met lof ontvang. ’n Artikel oor haar studie het onlangs in die vakjoernaal Domestic Animal Endocrinology verskyn. Met haar studie het sy haar twee groot liefdes gekombineer: musiek en diere.