Meer as twee jaar ná die skokkende huurmoord op Leon Brits, ’n geliefde sakeman en hotelier op die Boesmanlandse dorpie Pofadder, word 'n klomp van sy besittings by een van sy hotelle opgeveil. Sy familie en ander dorpenaars is egter boos hieroor en sê “aasvoëls” sak nou op die vermoorde man se boedel toe en dat sommige van die veilinglotte eintlik aan hulle behoort.
Suretha, Leon se aanvallige weduwee, dien tans tronkstraf uit vir die moord nadat sy R200 000 aan drie meelopers betaal het om haar man te vermoor. Die moord op 7 Oktober 2020 by sy huis op die dorp het die gemeenskap geruk. Familie, vriende en boere in die omgewing – wat aanvanklik gedink het dit was ’n plaasaanval – het na die dorp opgeruk om die skuldiges aan te keer. Dit het egter gou geblyk dat iets vreemd aan die gang is.
Leon se broer Tokkie is aanvanklik verdink nadat Suretha die vinger na hom gewys het.