Die Bitou-munisipaliteit in Plettenbergbaai gaan herbesin oor die toelating van honde op strande in dié dorp.
Die Natuurlewe-en-omgewingsvereniging van Suid-Afrika (Wessa), die beheerliggaam van blouvlagstatus, het al talle klagtes oor honde op blouvlagstrande in Plettenbergbaai, veral die Robberg 5-strand, ontvang.
Plettenbergbaai is as een van die wêreld se topbestemmings vir 2022 aangewys op die “goue lys” van die internasionale Conde Nast-reiswebtuiste en -tydskrif. Die dorp is ook in 2020 as die wêreld se top-strandbestemming aangewys (in die World Travel-toekennings).