’n Man wat reeds op sy troudag ogies vir ’n strooimeisie gemaak het, verskeie buite-egtelike verhoudings aangegaan het en toe boonop probeer het om sy vrou se onderneming te kaap, het sy dreuning teëgekom toe die hof bevind het hy verbeur al sy voordele en bates in hul gesamentlike boedel.
Regter Jan Swanepoel het in die hooggeregshof in Pretoria gesê dit sou onregverdig wees as die man baat sou vind uit die aanwas ná die huwelik.
“Hy het geen agting vir sy emosionele en finansiële verantwoordelikhede as eggenoot en vader getoon nie en hy het geen bydrae van enige aard tot hul gemeenskaplike huishouding gemaak nie.”