Dit is belangrik vir veral weerlose mense om opvolgdosisse van entstowwe te ontvang weens kwynende immuniteit en die toename in koronavirusinfeksies, sê prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe.
“Ek dink opvolgdosisse is belangrik omdat mense se immuniteit verswak en veral weerlose mense, ouer mense en mense met onderliggende toestande hierdie dosisse moet kry.
“Hulle loop ook die risiko om meer ernstig siek te word in die lig van die toename in infeksies,” het Schoub Vrydag gesê.