Suid-Afrika sal waarskynlik tot volgende week of dalk selfs September moet wag voordat die heersende tekort aan Covid-19-entstof verlig word.
Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het Woensdag gesê daar is tans ’n landwye tekort aan entstof en die besending van Johnson & Johnson wat Donderdag in die land verwag word, sal eers ná die naweek by inentingspunte beskikbaar wees. Die regering het dié entstof reeds Maandag verwag. Daarbenewens was daar 500 000 minder dosisse in die besending Pfizer-entstof wat Sondag aangekom het.
Die VSA het wel gister aangekondig hy gaan 5,6 miljoen Pfizer-dosisse aan Suid-Afrika skenk, maar Crisp meen dit sal eers oor vier of vyf dae in die land aankom.