Vier mans het Woensdag in die landdroshof in Mokopane verskyn in verband met die moord op twee ANC-raadslede van Limpopo in 2019.
Samuel Seruputlane (50), Jabulane Petros Mashamaite (43), James Mswezi Chuma (42) en Nkholo Frans Mangadi (49) staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, twee aanklagte van moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, sê Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Limpopo.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die ANC-raadslede Valtyne Kekana (54) en Ralph Kanyane (32) op 23 Julie 2019 in ’n voertuig in Mokopane doodgeskiet het.