Die ANC het vandeesweek hofdokumente op André de Ruyter, gewese uitvoerende hoof van Eskom, beteken. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het Vrydag aan joernaliste op ’n perskonferensie by Luthuli-huis gesê as De Ruyter nie binne sewe dae gehoor gee nie, sal die ANC verdere stappe doen.
Die party het ook vandeesweek hofdokumente op Eskom beteken.
“Ons dink daar is iets onwettig wat daar gepleeg is. Wie ook al die mense is wat genoem is, moet vir hul sondes pa staan. Die ANC het nie vir enigiemand die mandaat gegee om dinge daar om te krap nie.”