’n Verduideliking oor wat van “agt Krugerrande” geword het nadat een van adv. Pete Mihalik se vermeende moordenaars deur die verkeerspolisie van die pad af getrek is, is Woensdag aan die hof voorgehou.
Die staat was egter nie beïndruk met die verduideliking dat ’n voertuig soos blits tussen neus en ore verdwyn het nie.
Nkosinathi Khumalo, beskuldigde nr. 2 in die moordverhoor, was vir die derde dag onder kruisondervraging in die hooggeregshof in Kaapstad.