Die saak teen ’n 79-jarige man van Redelinghuys aan die Weskus wat van verkragting, seksuele aanranding en seksuele voorbereiding aangekla word, is Woensdag tot 25 April uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek.
Die man, wie se naam nog nie genoem mag word nie, het in die landdroshof in Piketberg op die aanklagte verskyn. Speurders verbonde aan die Wes-Kaap se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele mishandeling (GKS) en plaaslike polisielede het hom Sondag by sy huis in Redelinghuys in hegtenis geneem. Redelinghuys is sowat 60 km van Piketberg af.
Hy word daarvan aangekla dat hy ’n 11-jarige meisie op 13 April by sy huis in Redelinghuys verkrag het. Die voorval het omstreeks 14:30 verlede Woensdag plaasgevind. Luidens gerugte het die man, ’n bekende inwoner op die dorp, plaaskinders na sy huis gelok met lekkers, kos en geld. Die 11-jarige klaer is glo een van die kinders wat gereeld by die man se huis was.