Die slagting van alle katte in Brittanje is tydens die vroeë dae van die Covid-19-pandemie oorweeg omdat dit onbekend was of troeteldiere die virus kon oordra, beweer ’n voormalige adjunkminister van gesondheid.
James Bethell het in ’n onderhoud met Channel 4 News beklemtoon hoe min inligting aanvanklik oor SARS-CoV-2, die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, bekend was.
“Daar was ’n kort rukkie waar ons baie onseker was oor of troeteldiere die siekte kon oordra,” het hy volgens The Guardian gesê.