Die moontlikheid dat Rusland sy kernarsenaal sal inspan in die oorlog teen Oekraïne kan nie uitgesluit word nie.
Die land se militêre doktrine maak daarvoor voorsiening dat Rusland ’n kernwapen “voorkomend” kan gebruik as hy meen “sy voortbestaan word bedreig”, het Alexandre Groesjko, die land se adjunkminister van buitelandse sake, vandeesweek volgens die staatsnuusagentskap RIA gesê.
Terselfdertyd het Avril Haines, die VSA se direkteur van nasionale intelligensie, gewaarsku dat pres. Wladimir Poetin van Rusland die moontlikheid dat hy die oorlog in Oekraïne kan verloor, en die impak daarvan op sy eie pos, as ’n “eksistensiële bedreiging” kan beskou.