Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, is Maandag in ’n New Yorkse hof aan minagting van die hof skuldig bevind en met $10 000 per dag beboet nadat hy versuim het om te voldoen aan ’n dagvaarding vir die voorsiening van dokumente in die prokureur-generaal van New York se siviele ondersoek na sy sakepraktyke.
Volgens The Guardian het die deelstaat se prokureur-generaal, Letitia James, vroeër vandeesmaand ’n federale regter versoek om Trump van minagting van die hof aan te kla. James het gesê Trump het nie gehoor gegee aan sy vroeëre ooreenkoms om teen 31 Maart “ten volle” te voldoen aan haar dagvaarding vir dokumente en inligting nie.
James het gevra dat Trump met $10 000 per dag beboet word totdat hy daaraan voldoen.