’n Video wat oënskynlik wys hoe Russiese soldate ’n ongewapende Oekraïense krygsgevangene doodskiet, het woede oor Oekraïne heen ontketen.
Oekraïne se weermag het Dinsdag die soldaat geïdentifiseer wat volgens hulle deur die “Russiese indringers” doodgeskiet is en hom bestempel as ’n held wie se dood gewreek gaan word.
In ’n Facebook-plasing het die 30ste Gemeganiseerde Brigade die man as Timofi Sjadoera geëien. Hy is sedert 3 Februarie vermis ná vyandelikhede rondom die oostelike stad Bachmoet, waar van die hewigste gevegte van die oorlog steeds woed.