Die onderwyseres en twee boeties wat Vrydagoggend in ’n ongeluk buite Theunissen betrokke was, is steeds in die hospitaal. Lelam Molahloe (12), wat saam met hulle in die motor was, is in die ongeluk dood.
Betsie Jubileus (47) en Gert (9) en Adriaan (6) Hough is ernstig beseer en Lelam dood toe ’n vrou glo in Jubileus vasgery het. Die vrou was glo op pad na die Beatrix-myn en het Jubileus se Chevy Spark is aan die voorkant getref.
Die seuns ry soggens saam met Jubileus van Theunissen na Welkom waar hulle skoolgaan. Sy is ’n onderwyseres by die Amari Skool waar Gert ’n leerling is. Adriaan is ’n leerling van die Primêre Skool Naudéville, waar Lelam ook skoolgegaan het.