’n Vermeende spookwerker en twee gewese munisipale amptenare van die Dihlabeng-munisipaliteit in Bethlehem is Donderdag deur die Valke in Bethlehem en Bloemfontein in hegtenis geneem.
Hulle sal Vrydag in Bethlehem in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
“Die drie se inhegtenisneming hou verband met die feit dat ’n spookwerker tussen Januarie 2020 en Desember 2021 maandeliks R12 000 se salaris deur die munisipaliteit betaal is,” sê kapt. Christopher Singo, Valke-woordvoerder.