’n Dringende aansoek van twee gemeenskapsorganisasies van Bloemfontein om die Mangaung-metroraad te ontbind, het Vrydag in die hooggeregshof in Bloemfontein misluk.
Regter Johann Daffue het die aansoek van die Mangaung Service Delivery Forum en Forum 4 Service Delivery met koste van die hand gewys nadat hulle dié aansoek ter elfder uur teruggetrek het.
Die organisasies het Donderdag ’n kennisgewing by die hof ingedien waarin hulle sê hulle wil die aansoek onttrek en van die dringende hofrol verwyder. Geen regsverteenwoordigers het Vrydag namens hulle in die hof opgedaag nie.