Die Nasionale Dieretuin in Pretoria, onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), het vier seldsame baba-pannekoekskilpaaie (Malacochersus tornieri) verwelkom.
Hierdie unieke en kritiek bedreigde spesie inheems aan Tanzanië en Kenia, is bekend vir hul unieke dopstruktuur, wat ’n plat en buigsame vorm het, wat hulle in staat stel om onder rotse en in rotsskeure in te kruip wanneer hulle bedreig word. Hulle kan hulself omdraai as hulle op hul rug beland, vandaar die naam “pannekoek”.
Die dop het openinge tussen die beenplate. Dit is dus ligter en nie so rigied soos dié van ander skilpaaie nie. Pannekoekskilpaaie is danksy hul unieke dop ook uitstekende klimmers. Hulle vlug na hul rotsagtige huise, wat gewoonlik in smal rotsskeure is, wanneer gevaar dreig.