As George Steyn, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se raad, en die rektor, Wim de Villiers, nie in die nabye toekoms bedank nie, en as oudregter Edwin Cameron as die volgende kanselier van die US ingehuldig word, sal hy bedank as president van die US se konvokasie.
Só het dr. Jan Heunis, president van die konvokasie van die US, Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie in Stellenbosch gesê.
Die konvokasie is ’n vergadering van gegradueerdes en lede van die personeel van die US. Dit is bygewoon deur sowat 320 mense en talle hoës in die universiteit, onder andere De Villiers en dr. Ronel Retief, US-registrateur.