Pres. Cyril Ramaphosa het Arthur Fraser, kommissaris van korrektiewe dienste, glo die groen lig gegee om Jacob Zuma se omstrede vrylating op parool te bewerkstellig.
Twee bronne het Saterdag aan Rapport se susterkoerant, City Press, gesê Fraser het die president geraadpleeg voordat hy besluit het om Zuma vry te laat op grond van drie mediese assesserings.
’n Bron met insae in die bespreking het gesê: “Die ou man is ernstig siek. Daar was drie mediese assesserings wat deur drie verskillende dokters gedoen is wat almal sê korrektiewe dienste se mediese geriewe is nie daartoe in staat om na sy gesondheidskwessies om te sien nie. Dié inligting sal aan die lig kom wanneer die saak in die hof aangehoor word.”