Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, moet van sy planne vir die provinsie heroorweeg en duideliker strategieë voorlê oor hoe hy ekonomiese groei gaan verseker, meen sommige lede van die provinsiale wetgewer.
Nqaba Bhanga, ’n DA-LPW, het Dinsdag in Bhisho in die debat oor Mabuyane se provinsiale rede sekere ekonomiese aspekte uitgelig wat hy sê nie aandag gekry het nie.
Hy sê hy is bekommerd oor die premier se versuim om na behore planne te verskaf om te verseker dat die Oos-Kaap ’n ekonomiese spilpunt word.