Staak vermorsende staatsbesteding en help eerder sakeondernemings om te oorleef, verslap arbeidswetgewing sodat ondernemings meer mense in diens kan neem, en laat vaar die konsep van “noodsaaklike” goedere en dienste sodat enige onderneming sake kan doen solank dit nie ’n openbare gesondheidsrisiko inhou nie.
Dít is van die dringende voorstelle van ekonome aan die regering namate die besef deurdring dat ’n verlengde tyd van nasionale inperking dalk meer mense kan laat sterf as die Covid-19-pandemie self.
Nicholas Babaya, ontleder en navorser van die Instituut vir Rasseverhoudinge, sê Suid-Afrika was in ’n veel swakker ekonomiese toestand as die meeste ander lande toe die pandemie die land tref. Selfs sonder die nasionale inperking van 21 dae sou die land in ’n brose, blootgestelde ekonomiese posisie gewees het, maar die inperking het die druk skerp laat toeneem.
