Kan jy glo wat ekonome voorspel?

akkreditasie

Ek is ’n ekonoom. Ek het 15 jaar lank aan die voorspellingskompetisie Ekonoom van die Jaar deelgeneem. Ongelukkig het ek nooit gewen nie.

ekonoom
Corné van Walbeek

Sedert verlede jaar is ek die beoordelaar van die kompetisie. Ek vul die baie groot skoene van prof. Eon Smit, wat die kompetisie beoordeel het sedert dit in 1988 begin is. Ek gebruik dieselfde formule wat Smit aan die begin van die kompetisie ontwikkel het om vas te stel watter deelnemer se voorspellings die naaste aan die uitkomste is.

Vir elke veranderlike skat ek ’n geweegde som van kwadraatvoorspellingsfoute, en gebruik dit dan om die deelnemers van die akkuraatste tot die minste akkuraat te rangskik. Die deelnemer wat die hoogste op die ranglys in al die veranderlikes is, is dan die Ekonoom van die Jaar.

As akademiese ekonoom het ek meer tyd as die meeste ekonome in die private sektor om dinge te ondersoek wat ek interessant vind. Die afgelope tien jaar het ek heelwat tyd bestee aan die evaluering van die akkuraatheid van ekonomiese voorspellings, nie net deur die deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-kompetisie nie, maar ook deur adviesburo’s sowel in Suid-Afrika as in die res van die wêreld.

LEES OOK: Hoe Ekonoom van die Jaar jóú kan help

Ongelukkig was die resultate redelik ontnugterend. Die voorspellings is dikwels nie baie akkuraat nie.

Ekonomiese vooruitskatting is sowel ’n wetenskap as ’n kuns.

’n Aantal deelnemers aan die kompetisie het gesofistikeerde ekonometriese modelle ontwikkel, wat goed gevestigde ekonomiese verhoudinge skat. Dié modelle word gereeld bygewerk namate nuwe data beskikbaar en nuwe verhoudinge belangriker word.

Ek weet dat sommige konsultasiefirmas dae lank sit om die aannames van die model te bespreek en die voorspellings wat die model lewer te ontleed. Die voordeel van dié benadering is dat die voorspellings konsekwent is. Daar is ’n logiese “verhaal” in hul aanbiedings en verslae. Dit is die wetenskaplike benadering.

Ander voorspellers gebruik nie ekonometriese modelle nie. Hulle grond hul voorspellings op ervaring, op historiese tendense, op die voorspellings van ander, en ’n “instink” (gut feel).

Gevra oor hoe hulle by ’n spesifieke voorspelling uitkom, kan hulle ’n goeie verduideliking gee, maar die verklaring is nie gewortel in ’n samehangende wiskundige of statistiese model nie.

Lewer die wetenskaplike benadering akkurater voorspellings as die “onwetenskaplike” benadering? ’n Mens sou verwag dat dit die geval sou wees, maar die getuienis is verbasend gemeng.

Met dié wetenskap-kuns van voorspelling is ons ongelukkig nie baie goed nie.

Soms is die voorspellings verskriklik verkeerd. Baie min ekonome het die resessie van 2009 voorspel. Ons was al daarin voordat dit as ’n resessie erken is, en daarby ’n baie diepe resessie.

Die tekens was daar... Maar die meeste voorspellers het die 2009-resessie nie sien kom nie.

Die tekens was daar in September 2008 toe die wêreldbeurse ineengestort het, en die wêreld op die rand van ’n inploffing van die finansiële sektor gestaan het. Maar die meeste voorspellers, onder wie die deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-kompetisie, het die 2009-resessie nie sien kom nie. Dit was nie die beroep se beste oomblik nie.

Sommige dinge is eenvoudig onvoorspelbaar.

Vroeg in 2020 het die meeste ekonome voorspel dat dit ’n ekonomies moeilike jaar sou wees. Baie het voorspel dat die ekonomie in ’n resessie sou wees, omdat die bruto binnelandse produk (BBP) in die vierde kwartaal van 2019 ingekrimp het en die vooruitsigte donker was.

Niemand kon egter die koronaviruspandemie voorsien het nie. Die laaste keer toe ’n virus sulke ekonomiese verwoesting veroorsaak het, was met die griep van 1918.

Om te verwag dat voorspellers sou besef dat ’n virus wat in Desember in ’n verafgeleë stad in China geïdentifiseer is, in 2020 wêreldwyd sulke groot gevolge sou gehad het, is eenvoudig onredelik.

Die stad waar dit alles begin het? ’n Man stap oor ’n brug in Wuhan. Foto: Getty Images

Toe dit duidelik geword het dat die resessie baie diep gaan wees, het die BBP-voorspellings natuurlik baie vinnig die werklikheid weerspieël.

Vir 2021 moet deelnemers agt belangrike ekonomiese veranderlikes voorspel. Die organiseerders, in oorleg met die deelnemers, en nadat die voorspellingsprestasie van die afgelope 20 jaar oorweeg is, het die aantal veranderlikes van 12 tot agt geknip. Die veranderlikes wat gesny is, is die rand-euro-wisselkoers, die saldo op die lopende rekening, die rentekoers van driemaande- onderhandelbare depositosertifikate (NCD) en die platinumprys.

Sommige veranderlikes is moeiliker om te voorspel as ander. Die kompetisie se voorspellingsprestasie is ietwat beter vir BBP-groei, die groei in verbruikersbesteding deur huishoudings, die inflasiekoers, die prima rentekoers en die opbrengs op langtermyn-staatseffekte as vir kommoditeitspryse (olie en goud) en die rand-dollar-wisselkoers.

Die voorspellingsprestasie vir die wisselkoers- en kommoditeitspryse gedurende die afgelope 20 jaar was op sy beste onbestendig.

In sommige jare, veral as daar nie veel beweging in die veranderlikes is nie, is die voorspellingsprestasie redelik goed.

In jare waar daar baie wisselvalligheid in die mark is, was die voorspellingsprestasie redelik swak.

Ons erken dat daar veral ’n sterk vraag na voorspellings van die wisselkoers is, en dat daar ’n implisiete begrip bestaan dat die voorspellings waarskynlik verkeerd sal wees. Soos by elke aankoop, geld die caveat emptor-klousule egter ook vir voorspellings ¬ laat die koper pasop.

  • Prof. Corné van Walbeek is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se skool vir ekonomie en hoof van die navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynspligtige produkte (Reep).
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
14.63
+0.7%
Rand - Pond
20.16
+0.6%
Rand - Euro
17.03
+0.5%
Rand - Aus dollar
10.96
+0.2%
Rand - Jen
0.13
+0.7%
Goud
1,791.44
+0.4%
Silwer
24.34
+0.6%
Palladium
2,036.00
-0.3%
Platinum
1,062.82
+0.8%
Brent-ruolie
84.61
-1.4%
Top-40
60,024
+0.9%
Alle aandele
66,570
+0.8%
Hulpbronne 10
62,180
+1.1%
Industriële 25
86,128
+0.7%
Finansiële 15
13,855
+0.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy
Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos