Ondanks puik syfers wat hulle die laaste ruk uitgereik het, het die aandeelpryse van Suid-Afrikaanse banke Maandag verder gegly saam met dié van banke wêreldwyd.
Die hele finansiële bedryf is onder beleg nadat die Amerikaanse Silicon Valley Bank (SVB) in kuratele geplaas is in wat as die grootste stormloop tot dusver beskryf word van mense wat hul geld wil onttrek.
Van Donderdag se sluitingstydprys tot Maandag se laagste prys het Absa se aandeelprys met 9,9% geval. Dié bank, wat Maandag ’n styging van 13% in sy wesensverdienste bekend gemaak het, is die ergste gelooi.