Die Mineraleraad van Suid-Afrika het pres. Cyril Ramaphosa se toespraak Dinsdag by die Mynbou-indaba in Kaapstad wyd verwelkom.
Die raad, wat die meeste groot mynmaatskappye in die land verteenwoordig, was beïndruk daarmee dat Ramaphosa nie weggeskram het om oor die moeilikhede te praat waarmee die bedryf te kampe het nie.
Ramaphosa het gewys op die sukses wat behaal kan word as die openbare en private sektor saamwerk. Die Mineraalraad is bemoedig deur Ramaphosa se verbintenis daartoe om struikelblokke vir groei in die mynbou uit die weg te ruim. Hy het die mynbedryf se bydrae erken om die ekonomie weer aan die groei te kry, om werk in moeilike ekonomiese omstandighede te skep en om die werkmag tydens die pandemie veilig te hou. ’n Driekwart van die mynbedryf se werkers is teen die koronavirus ingeënt, wat dit die voorste bedryf maak wat die beskerming van sy werknemers betref.