Die padkaart wat Laura Wolvaardt se persoonlike afrigter, Laurie Ward, vir haar help opstel het, het dié Protea-aanvangskolwer gehelp om die voorste kolwer in vanjaar se T20-Wêreldbeker-toernooi vir vroue te wees.
Sy het die toernooi afgesluit met spogbeurte van 66 teen Bangladesj, 53 in die halfeindronde teen Engeland en 61 teen Australië in die eindstryd. Haar totaal vir die toernooi is 230.
Ward het haar gehelp om met ’n meesterplan vorendag te kom oor hoe om meer grenshoue bo-oor die binnering te slaan. Sy het die balans perfek gevind tussen versigtig kolf en ’n grondslag lê, en aggressiewe houespel in die kragspelbeurte.