Met sy eerste toetshonderdtal in meer as sewe jaar het Temba Bavuma Vrydagmiddag op die Wanderers in Johannesburg vir die Proteas die tjoppies uit die vlamme gered.
Nadat die Proteas met middagete op die derde dag van die tweede en laaste kriekettoets teen die Wes-Indiese Eilande op 69/4 begin wankel het, het die 32-jarige Bavuma die beurt van sy lewe gespeel.
Suid-Afrika se kaptein het voor sy tuisskare ’n briljante 171* aangeteken – sy hoogste toetstelling en slegs sy tweede toetshonderdtal.