As Australië nog die toetsreeks teen Indië wil red, sal hy dit nou sonder sy ervare aanvangskolwer David Warner moet doen.
Australië se krieketspan, wat met 0-2 agter is in die reeks van vier toetse in Indië, het Dinsdag aangekondig dat die 36-jarige Warner nie betyds van ’n gebreekte arm en harsingskudding sal herstel om in die laaste twee toetse te speel nie.
Dié hotklou-buksie is twee keer raakgeboul in die eerste kolfbeurt van die tweede toets in Delhi en kon nie daarna voortkolf nie. Daar is Maandag gesê dat hy vir eers by die span sou aanbly, maar die Aussies se mediese span het intussen van plan verander.