Dit is weer Curriebeker-tyd, en dit beteken praatjies dat die voormalige kroonjuweel van Suid-Afrikaanse rugby sy glans verloor het, is weer volop.
Met goeie reg.
Die Curriebeker het ’n ryke tradisie en in die verlede was dit vir verskeie Springbokke ’n eer om dié beker te lig. Die toernooi het oor die laaste paar dekades vir spanning, drama en selfs komedie gesorg. Daar was die verrassing in 1970 toe Griekwaland-Wes, met Mannetjies Roux aan die spits, die magtige Noord-Transvaal in die eindstryd geklop het. Ons sal ook altyd die Noord-Transvaal-era van die 1970’s onder die afrigting van “Oom” Buurman van Zyl onthou. Dan was daar ook die Westelike Provinsie wat in die 1980’s gedomineer het. En Natal wat in die 1990’s vriend en vyand verras het met verskeie seges.