Jacques Nienaber, afrigter van die Springbokke, het die pouse in die Verenigde Rugbykampioenskap gebruik om ’n vinnige kamp van nóg twee dae in Kaapstad te hou.
Agt spelers – Joseph Dweba (haker), Deon Fourie (flank-haker), Marco van Staden (flank), Evan Roos (agtsteman), Herschel Jantjies, Grant Williams (albei skrumskakels), Manie Libbok (losskakel) en Sbu Nkosi (vleuel) – sal Saterdag aan sessies op en weg van die veld deelneem.
Dit volg op ’n kamp waarin 14 senior Bokke die afgelope drie weke in die Moederstad geslyp het. Daardie spelers keer ná agt weke – vier van rus en nóg vier van “ontwikkelingswerk” – terug na hul franchises. Hulle sal weer beskikbaar wees wanneer die VRK op die naweek van 24 en 25 Maart hervat word.