’n Groep van 14 Springbokke sal van Sondag af in Kaapstad saamtrek vir ’n oefenkamp van drie weke ter voorbereiding vir die internasionale seisoen.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Saterdag in ’n verklaring bekend gemaak dat die oefenkamp tot Vrydag 10 Maart sal duur. Die spelers wat hieraan sal deelneem is diegene wat tans ’n ruskans by hul franchises kry en nie in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Europese Kampioenebeker-reeks in aksie is nie.
Spelers soos Eben Etzebeth (slot), Siya Kolisi (flank) en die senter Lukhanyo Am tel onder die spelers van die Haaie wat nie tans deur die Durbaniete ingespan word nie, omdat hulle ’n ruskans kry.