Die Springbokke se Wêreldbeker-planne word weekliks duideliker.
Hul neiging om vanjaar minder spelers na die nasionale belyningskampe te nooi, duur voort. Net vier spelers wat hul klubrugby in Engeland speel – Handré Pollard, André Esterhuizen, Jasper Wiese en Jean-Luc du Preez – sal volgens Rapport se inligting op 26 Maart ’n virtuele sessie van die Bokke bywoon. Hul klubspanne is reeds in kennis gestel van hul uitnodigings.
Pollard is deesdae weer aan die brand vir sy klubspan, Leicester Tigers, terwyl Wiese, Du Preez en Esterhuizen ook weekliks bogemiddelde spel lewer.