Dennis Visser, ’n voormalige Junior Springbok, sluit hom van volgende seisoen af by die Italiaanse klub Zebre aan.
Rugbypass berig dat die 29-jarige Visser ’n kontrak tot volgende jaar, met ’n opsie om dit vir ’n jaar te verleng, met Zebre gesluit het. Hy speel tans vir Narbonne in Frankryk se tweede liga.
Visser het Suid-Afrika in 2013 op o.20-vlak verteenwoordig en sy opgang deur die ouderdomsgroepe by die Blou Bulle gemaak. Daarna het hy vir die Griffons en Cheetahs gespeel. Hy het ook vir Tuks in die Varsitybeker-reeks verteenwoordig.