Sy sou veel eerder aan die “groen kant” van verlede jaar se Wêreldbekerrugby-eindstryd wou wees om haar derde goue medalje te kon wen, maar dr. Sherylle Calder, internasionaal bekende visuele vaardigheidsafrigter, het vrede gemaak daarmee dat sy as lid van Eddie Jones se Engelse bestuurspan in Japan aan die verloorkant was.
In 2003 het Calder onder Clive Woodward haar eerste Wêreldbeker-goue gewen toe Engeland Australië in die eindstryd verslaan het. Haar tweede was saam met die Bokke toe Jake White se span in 2007 die toernooi gewen het.
Ná Engeland se groot Wêreldbeker-hartseer is sy egter wêreldwyd bedrywig om sportsterre te help voorberei, met die Stormers se rugbyspelers wat ook by haar “aanlyn klasloop”.