Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi tot 12 Augustus 2023 verbied om aan rugby deel te neem of te administreer, asook enige ander sport in Suid-Afrika en internasionaal.
Saids het hom Vrydag volgens regulasie 21 van Wêreldrugbyreëls 2018 vir ’n tydperk van vier jaar geskors nadat hy op 13 Augustus 2019 in kennis gestel is dat hy positief vir drie verbode middels getoets is.
Terwyl Saids nog nie amptelik sy vonnis bekend gemaak het nie, is Rapport in besit van die elektroniese brief wat aan Dyantyi gestuur is om hom oor sy straf in te lig.