Die Wet op Rampbestuur is as baie progressief beskou toe dit aanvaar is, maar die doeltreffendheid daarvan ly onder gebrekkige toepassing, skryf Dewald van Niekerk en Elmien du Plessis.
In Suid-Afrika volg ons ’n doelgerigte benadering wanneer ons wetgewing vertolk. Dit beteken dat wanneer howe wetgewing vertolk, hulle so ver moontlik uitvoering gee aan die doel van die wet.
’n Toepassing en begrip van die Covid-19-regulasies vereis dus ’n bepaalde verstaan van die Wet op Rampbestuur en wat dit beoog om te bereik.