Die ou Suid-Afrikaanse vlag is ’n gedenkteken van die kollektiewe ongeregtigheid van apartheid, en moet verwerp word, skryf Elmien du Plessis.
Milan Kundera skryf die stryd van die mens teen mag, is die stryd van onthou teen vergeet. Die enigste rede waarom mense die meesters van die toekoms wil wees, is om die verlede te verander. So word foto’s geredigeer en biografieë en geskiedenisse herskryf.
Dit het my laat wonder: Watter implikasies het dit vir ons, as Suid Afrikaners – as “ons, die mense van Suid Afrika”, en die onthou van ons verdeelde verlede? Hoe moet die handeling van onthou plaasvind, om aan ons grondwetlike doelwitte te voldoen waar ons moet bou aan ’n vrye, demokratiese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, vryheid en gelykheid? Hoe gee ons inhoud aan dié waardes met ’n erkenning van ons geskiedenis?