Die staat moet besef dat ’n mens nie samewerking kry deur hardvogtige maatreëls en ’n geskree nie – ’n mens kry samewerking deur mense in jou vertroue te neem en inligting te deel, deur ons as burgers te vertrou, skryf Elmien du Plessis.
Op 30 April is die nuwe regulasies vir vlak 4 van die staat van inperking bekend gemaak. In baie opsigte verskil vlak 4 nie veel van vlak 5 nie. Die geringe verligting wat vlak 4 bring, het, te oordeel aan die hoeveelheid WhatsApp-stemopnames en video’s wat ontevredenheid weergee, Suid-Afrikaners nader aan breekpunt gedruk.
’n Strategie wat (tot dusver) blyk te werk, is natuurlik sy eie grootste vyand. ’n Lae sterftesyfer is óf ’n “Jis, dit was amper” óf ’n “Dit was oordrewe”.