Vroegoggend voor ’n rak vol kruideniersware in Pick ’n Pay, Bloemfontein, vang my oog meteens die koerante van die dag. En die verlange na ’n papierkoerant, met duidelike leesbare drukwerk, oorweldig my. Gelukkig kon ek vandag se Beeld vinnig opraap.
Op die Middelblad lees ek Bun Booyens se sinvolle artikel oor “Hoe word ’n dorpie gered?” en herken as Bloemfonteiner ’n middelblad-foto van die eens historiese Arthur Nathon-swembad wat geesdriftig deur Bloemfonteiners besoek is en tot niet gegaan het.
In dié swembad, in jare 1960 tot 1980, het koelgroen en helderblink swembadwater jou altyd verwelkom. Die gras was smaraggroen en versorg en onder hemelhoë dennebome kon jy insluimer en luister hoe takke buigend swaai en fluister.