Op Woensdagaand 13 April kom die opdrag: Elke provinsie moet hul polisiereddingspanne na KwaZulu-Natal stuur om te gaan help met die vloede en nie later nie as Donderdagaand in Durban aanmeld. Dit is nou lede van die duik- en honde-eenhede en almal in die polisie wat kan help.
Dis Goeie Vrydag-oggend, die polisielede staan by hul blink Cruisers en Rangers, bote op sleepwaens en ’n helikopter op die agtergrond, gereed vir die avontuur wat voorlê. Die eerste dag word 12 oorlewendes uit die modder en puin gehaal, asook verskeie lyke. Die volgende dag word méér lyke as lewende mense herwin en die avontuur word ’n nagmerrie. Sy aan sy, vergesel van inwoners en polisielede wat die gebied ken, word daar deur die puin en modder geploeter. Elke dag word lyke herwin en droewige tonele word gesien. ’n Man by sy enigste besitting, ’n bok aan ’n tou, nog iemand met ’n hond in haar arms, ’n ander een met ’n modderbesmeerde kledingstuk van ’n gesinslid wat steeds soek is, ’n polisieman met ’n verdwaalde kleuter op die skouer.
Die vloede het nie tussen krotwonings en paleise gediskrimineer nie – waar dit getref het, is niks. Op ander plekke is daar afgronde waar eens huise was. Aan die einde van die afgrond lê motorwrakke of luukse voertuie wat seker maar net met grond toegestoot gaan word. Van die huise wat nog staan, kan nie binnegegaan word nie omdat die deure en vensters deur modder gekompakteer is. Ongelukkig moet hulle ook steeds waaksaam wees teen plunderaars. Miskien moet ek simpatie hê met iemand wat steel om te oorleef nadat die modder al sy besittings asook van sy familielede verswelg het.