Verwysend na die berig “Klimaatgroep kla Cyril aan ná honderde in vloede sterf” (20.04) die volgende kommentaar. Die afgelope bonormale reënval oor die grootste dele van Suider-Afrika is doodgewoon ’n gevolg van die sogenaamde La Niña-verskynsel wat in die Stille Oseaan voorgekom het.
Hierdie verskynsel (ook die El Niño) is reeds in 1856 ontdek toe die seeoppervlak se temperatuur aan die weskus van Suid-Amerika in sekere jare groot wisselings getoon het. Navorsing het bewys dat gedurende die La Niña-verskynsel die reënval oor Suider-Afrika, asook groot gedeeltes van Australië, bonormaal is.
Die vloede in September 1987 in Natal, asook die vloede in Februarie 1988 in die Vrystaat, het dan ook gepaard gegaan met ’n La Niña-verskynsel en net soos nou is die weerstelsel verantwoordelik vir ’n afsny-laagdrukstelsel. Die El Niño-verskynsel veroorsaak die omgekeerde – ondergemiddelde reënval.